Uittreksels uit Kruidjie Roer My

Bladsy 11

So het ek hierdie droom, om by iemand te leer van die bossies wat so teen my skoene krap as ek die vlaktes plat loop, langs my voetpad gebêre. Elke keer dat ek aan die droom gedink het, het die geheime eier warm geword en bly groei totdat hy twee en veertig jaar later eensklaps uitgebroei het. Net soos die bergskilpad wat terugkyk na die nes in die grond waar sy haar eiers gelê het en met die wegstap weet dat likkewaan party eiers gaan uitgrawe, en dat waar hy opgehou het, die meerkat gaan oorvat, en dat party eiers nogtans uitbroei – net so het ek geweet dat hierdie droom van wil weet van die geheime van die Karoo tog eendag gaan uitbroei.

Bladsy 28

Laatmiddag as ons klaar geëet het en die skemer begin om die klippe en die wit huisies vou, dan het oom Johannes die kers aangesteek en dan was dit die tyd om te begin stories vertel. Ná hy die kers aangesteek het, kyk hy stip na my en sê: “Kyk na die lig van die kers en laat jou lig só helder skyn.” Dan het hy verduidelik dat as ‘n mens in die veld loop en kruie soek, die natuur vir jou sy lig gee sodat jy die kruie kan raaksien. So deel Moeder Aarde haar heilige vlam met jou. Dis jou werk om in jou binneste rond te loop en daardie lig te soek sodat jy dit kan terugkaats. Jy kan nie met kruie werk sonder daardie uitruiling van energie nie. Nou sewe jaar later, loop ek en oom Johannes die vlaktes en die berge plat, hy met sy fakkel voor en ek en my kersliggie agterna.

Bladsye 36 en 37

Nadat oom Johannes my my eerste gryp gewys het, het hy my stip aangekyk, en gesê: “As mens kruie gebruik, moet mens glo.” Ek het vervaard in my verstand rondgetas en probeer dink wat moet mens dan nou glo as jy kruie gebuik. Almaardeur my vakleerlingskap het ek agtergekom ek moet die dinge wat die oom sê wat ek nie dadelik verstaan nie, laat lê en broei totdat hulle eendag onverwags uitbroei en jy jou hande in verwonndering saamslaan oor die eenvoud daarvan. So het ek begin agterkom as ek my kruie sluk met geloof dat dit na die regte plek toe sal gaan om te genees, is dit asof ek die kruie toestemming gee om hulle werk te doen. Ek hoef nie wetenskaplik te verstaan op watter manier die kruie met watter organ werk nie. Partykeer kom die oom met ‘n kruiemengsel hier by my huisie aan en as ek vra: “Nou, waarop werk dit, Oom? Sal hy ongeërg sê: “Ag, Juffrou, dis maar net om jou sterk te maak.” En as ek hierdie onbekende kruie drink, vertel my liggaam my waarop hulle werk. Genesing kan sterk en seker plaasvind as ons die kruie hulle werk met blinde geloof laat doen.

Die proses van die genesing is net so belangrik as die uiteindelike genesing self. Die medisyne wat jy oor die toonbank koop, verlig die simptoom binne een uur en so word die proses van die genesing oorgeslaan. Ek het àl minder nodig gehad om my genesing te verstaan; dit was vir my genoeg om dit te voel. Ek het begin besef dat as jou genesing bly voortgroei, mense wat na aan jou is hierdie genesing aanvoel, en deur jóú genesing word die kollektiewe bewussyn van almal om jou verhoog.

Bladsy 38

Die oom vertel: “Ons almal word met ‘n boom in ons hart gebore en soos ons groei, so groei die boom. As dit met ons goed gaan, dra ons boom bloeisels en die blare is welig en groen, maar as dit sleg gaan, val die blare af en die bas begin verkleur. Dis jou werk om na hierdie boompie te kyk: gereeld water te gee, met kraalmis te bemes en die grond rondom die boom gereeld los te maak. Juffrou moet elke oggend en elke aand stil word en kyk hoe lyk jou boom, en jy kan ook nie laat ‘n ander een na jou boompie kyk nie, jy moet dit self doen.

Partykeer snoei die Groot Tuinier jou boom dat jou asem wegslaan as jy sien hoe jou boom lyk en wonder of jou boom dit gaan oorleef. Dan is dit geloof wat die beste bemesting vir jou boom is. Die boom in jou hart is vir jou gees ‘n skaduplek om te kom rus, en partykeer kan jou boom sy skaduwee gee vir ‘n ander mens wie se boom se blare alles afgeval het. Elke oggend as jou wonderwerk jou wakker maak, Juffrou, dan gaan jy reguit na jou boom toe en jy praat met hom.”

Nà jare het my boom begin blare kry, nog ‘n jaar later het hy begin vrugte dra en vandag voel ek soos ‘n kind as ek met my boom se mandjies vrugte loop en uitdeel vir mense wie se bome nie hierdie jaar vrugte dra nie. My boom het my soveel geduld geleer en moed gegee om deur die tye wat hy nie dra nie te bly glo dat hy weer sal dra.

Die bogaande uittreksels word hier gebruik met die toestemming van die uitgewers, Umuzi.