Antoinette & Oom Johannes

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Oom Johannes

Oom Johannes Willemse staan onder baie name bekend: siener, kruiedokter, heler, storieverteller, leermeester. Hy is gebore op die plaas Breekkierie in die Kenhardt-distrik as die oudste van twaalf kinders en het sy kennis van Karoo-kruie saam met heelwat ander wyshede en staaltjies by sy oupa Hansie geleer.

Sy lewenspaadjie het hom uiteindelik op skaapboer Jacques Pienaar se plaas gebring waar hy jagter was. Aangesien sy eie nasate nie belanggestel het om die kruie-tradisie voort te sit nie, was hy verlig toe Antoinette uiteindelik opdaag met haar desperaatheid om gesond te word en die honger om te leer – hy droom toe reeds jare van die vrou in die rooi bakkie wat die fakkel by hom sou oorneem. Alhoewel hy reeds in sy negentigs is, klim Oom Johannes nog gereeld die berge agter die opstal uit en stap meeste oggende kilometers agter kruie en diere aan. “Baie kere as mense vir my vra ‘dink jy nou die kruie sal werk?’, dan kyk ek na die oom se veerkragtigheid op ‘n hoë ouderdom en besef elke keer dat die oom die beste advertensie is van hoe gesond kruie vir ‘n mens is,” sê Antoinette.

Antoinette

Antoinette, ‘n Karookind van Carnarvon in die Noord-Kaap, het reeds as meisie verstaan dat sy eendag sou stories vertel en van kruie leer. Aangesien sy nie ‘n graad in storievertel kon doen nie, het sy maar drama gaan studeer en later bekendheid verwerf as aktrise en storieverteller. Gedurende ‘n “kopskoonmaak” en soeke na haar Franse agtergrond in Mali, Wes-Afrika het sy selebrale malaria opgedoen en by die dood omgedraai. Erg verswak het sy by haar ouers op Beaufort-Wes gaan bly. Tydens ‘n toevallige inloer by Theefontein, die plaas van kleinneef Jacques Pienaar, het haar en Oom Johannes se paaie gekruis. “Hier kom juffrou nou eers aan” was sy effe-kwaai eerste woorde aan haar. Sederdien het sy in ‘n werkershuisie oorkant Oom Johannes s’n ingetrek waar sy nie net gesond geword het nie, maar stadig-maar-seker van kruie, veldkuns en vrede begin leer het. Sewe jaar later, in 2008, het die boek Kruidjie roer my die eerste stap geword om te verseker dat die kruie-erfenis nie vir Suid-Afrika en die wêreld verlore gaan nie.

Antoinette tree steeds op en deesdae is haar vertonings ook ‘n uitvloeisel van haar rol as “bewaarder” van die kosbare erfenis wat andersins geheel sou uitgesterf het. Sy en Oom Johannes is meestal op die plaas sodat Antoinette nog ‘n bietjie kan leer en ‘n tweede boek kan skryf.

Theefontein is vernoem na ‘n soort tee wat in die berg groei en onderandere goed is vir hartprobleme. Theefontein, en ‘n paar aangrensende plase wat ook aan Pienaars behoort, vorm die “kwekery” vanwaar Antoinette en Oom Johannes hulle kruie oes.