Diep in die Groot Karoo van Suid-Afrika, aan die voet van ‘n berg sonder ‘n offisiële naam, het ’n Griekwa-kruiekenner ‘n wit vrou geleer hoe om mense met kruie gesond te maak.
Oom Johannes Willemse, was reeds in sy negentigs, en was sommer vies dat dit bekende Afrikaanse aktrise Antoinette Pienaar amper 40 jaar geneem het om by hom uit te kom, hy droom dan reeds dekades dat sy hom gaan help om sy kennis oor te dra.
Toe sy in 2001 op kleinneef Jacques Pienaar se plaas Theefontein opdaag was Antoinette ernstig verswak nadat sy serebrale malaria in Wes-Afrika opgedoen het, maar sy het aangebly om deur kruie en die Karoo genees te word.
“Dokters het my aangesê om maar reg te maak vir ‘n vroeë dood omdat my lewer en niere baie skade opgedoen het, maar ek het eerstehands ondervind hoe die kruie my organe versterk het en ek is nou volkome gesond. Konvensionele medikasie neem in baie gevalle die werking van die geaffekteerde orgaan oor, maar kruie versterk die orgaan sodat hy self die werk kan doen. Kruie werk op fisiese sowel as emosionele vlak in die liggaam en verlig daarom ook simptome wat saam met post-traumatiese stres gaan,” sè Antoinette.
In die Karoo by Oom Johannes het sy ook geleer van veldkuns, veldkruie, kruiepreparate voorberei en lewe soos die ou mense gelewe het. “So het die son warm oor my kop geskyn en die blou lug die mantel geword wat ek elke dag gedra het. Deur so omring te wees met die balans van die natuur, het ek gevolglik ook balans in my binnelandskap ontvang.”
Op ‘n hoogtetjie naby die plaasopstal het sy en die oom in werkershuisies sonder elektrisiteit of lopende water, op hulle eie werf met diere, voëls, rus en vrede gebly. In Antoinette se wit huisie teen die bult rol stories uit soos rivierklippe: die bekende boek Kruidjie roer my is voor die klein kombuisvenstertjie op ‘n ou tikmasjien geskryf. Hierdie is webwerf bedoel om eeue se kosbare en bruikbare inligting, stories en rate aan huidige en toekomstige geslagte oor te dra.
Vandag kan enige persoon wat ‘n foon kan optel, of die kuberruimte kan gebruik, voordeel trek uit die antieke kennis en genesingskrag van kruie, maar die opregte soeker kan in die Karoo by Antoinette kuier vir genesing van liggaam en siel.
Oom Johannes is ongelukkig 'n geruime tydie orlede, maar Antoinette is knaend besig om sy waardevolle kennis en onderrig te gebruik om mense te help.
Die lang man sonder skaduwee
Stap saam op die Karoo se grondpad na genesing.
In Antoinette Pienaar se boek,
Die lang man sonder skaduwee,
sit sy haar reis met Karookruie en hul genesende krag voort soos sy reeds vir baie jare in haar weeklikse program oor RSG doen.
Lesers het haar en oom Johannes ook leer ken in Kruidjie Roer My, wat reeds sy plek as klassieke werk in Afrikaans ingeneem het.
Antoinette het al reeds vir jare in die Karoo saam met oom Johannes Willemse, die legendariese Griekwa-medisyneman gewerk. Saam het hulle die helende kragte van kruie gebruik om mense se lywe en siele te dokter.
In dié boek gee sy nie net praktiese raad oor hoe om kruie te gebruik om allerlei kwale te behandel nie, maar ondersoek sy ook die genesende krag wat in die ou stories, raaisels en rympies van die Griekwa-mense skuil. Sy glo dat ʼn fisieke probleem dikwels ʼn emosionele oorsprong het en dat daar helende kragte in stories is
Uitgegee deur Penguin Random House South Africa
Kruidjie Roer My
Kruidjie roer my – Die antieke helingskuns van die Karoo-veld , geskryf deur Antoinette Pienaar, is so veel haar en Oom Johannes se storie as ‘n manier om die antieke helingskuns en erfenis van Karoo-kruie aan opvolgende geslagte oor te dra.
Uitgegee deur Umuzi en opgedra aan Oom Johannes, Kruidjie is 144 bladsye van storievertel en kennis oordra.
Die boek is in Engels vertaal onder die titel The Griqua’s Apprentice – Ancient healing arts of the Karoo.