Werkswinkels
Let wel: Alle werkswinkels kan slegs per epos bespreek word.
Kontak Antoinette gerus by infoSKaapSTERTkarookruie.co.za.In die 18 jaar dat ek oom Johannes se vakleerling was om te leer van die medisinale waarde van Karoo kruie en n magdom ander wonderlike dinge wat ek by oom Johannes geleer het, is die genesende waarde van Moeder Natuur eerste op die lys. Net om die son op jou rug te voel as jy in die veld stap, of die blou dak bokant jou bewonder of die voeltjies se sang te beluister, verander iets in jou binnelandskap en maak seerplekke in jou binneste gesond. Dit het my jare gevat om werklik die stilte hier in die Land van Ruimte te hoor en te voel watter goeie medisyne dit is om weg te sink in hierdie heilige stilte.
Jy hoef niks te doen om hierdie genesing te bewerkstellig nie, jy hoef net die sagte arms van die groot bruin berge op Theefontein, die Manberg en die Vrouberg te gaan skuil, want hulle verstaan met n oer-verstaan. Dit is ook in Moeder Natuur waar jy die manifestasie van die Skepper van als sien, maak nie saak watter naam jy die Blou dak se Baas noem nie.
Na jare van hierdie wonderlike avontuur, het ons die behoefte begin voel om hierdie skat met ander te deel en dis hoe ons werkswinkels begin het.
Wat jy kan saambring
Hier is nie selfoonopvangs nie, maar ons het wi-fi by ons op die bult as mense oproepe wil maak. Ons het sonpanele wat krag verskaf
vir mense wat hulle fone wil herlaai.
- Dit help om n koplig of gewone flits te bring as jy snags wil \ moet opstaan.
- Sonbrandmiddel.
- Muskiet-afkeer middel.
- Goeie skoene.
- 'n Goeie hoed.
- 'n Boek om aantekeninge te maak.
- 'n Kamera of selfoon vir mooi fotos.
- 'n Mus of ''beanie'' vir die nagte wat koel is.
As jy allergies vir bysteek, maak seker dat jy die regte medisyne by jou het om n krisis te voorkom (ons is ver uit die dorp uit).
''One-on-ones''
Deur die jare het ek agtergekom dat nie almal verkies om in n groep te kom om te leer van kruie nie, maar dat hulle verkies om vir n ''one-on-one'' te kom, waar ek maksimum 2 mense toelaat om by my op die werf op die bult te kom bly. Die ''one-on-ones'' is nie beperk tot die leer van kruie nie, mense kan bloot net kom om stil te wees of te rus, met beperkte stap in die veld. Mense kontak my om te kom skilder, kom skryf, kom sit of kom slaap hier in die rustigheid van Theefontein en hiervoor is die''one-on-ones'' perfek.
Hier op die bult is daar n klein huisie, waar jy water by die kraan op jou stoep gaan tap, waar jy kerse gaan gebruik en waar jy ''longdrop'' toe moet gaan. Dis gelukkig n moderne Enviro-Loo longdrop en die vele bangmaakstories oor ''longdrops'' deur die jare, geld nie hier nie.Ek het n yskas wat werk met sonkrag, so mense kan hulle kos koel hou vir die duur van hulle verblyf. Ek bied ook n opsie aan dat mense saam my eet. Ek verskaf beddegoed en mense kan hulle eie handdoeke bring om hulle af te droog nadat hulle in hulle kommetjie gewas het. Ek moedig ook mense aan om hulle eie kussings te bring.
Die verloop van hierdie ''one-one-ones'' is dieselfde vir mense wat kom om oor kruie te leer, maar wanneer mense nie noodwendig wil kom om van kruie te leer nie, bespreek ek vooraf met gaste wat hulle behoeftes is en ek pas dan aan by wat so n mens nodig het.
Die ''one-on-ones'' is besonder geskik vir mense wat n stryd voer om hulle gesondheid en baie mense kom hier aan nadat die medici moed opgegee het.
Mense kan n bespreking maak deur vir my n e-pos te stuur by infoSKaapSTERTkarookruie.co.za