Life Cards in my lewe

Ek het grootgeword in n klein dorpie in die Karoo, Carnarvon , in ’n huis waar my ouers lief was vir lieflike woorde van gedigte en vir klassieke musiek. My ma kan vandag nog op 84 jarige ouderdom lang gedigte oproep en baie keer as ons iewers heen ry en my ma iets sien wat haar tref, sal sy uit die bloute Kipling, Shakespeare of NP van Wyk Louw voordra dat jy tot in jou klein toontjie in lekkerkry. Met moedersmelk het ons die wete ingekry dat woorde heilig is en ’n stuk gereedskap is soos Van Wyk Louw se beiteltjie, waarmee jy waarhede kan oopklief. Met ’n waar woord manifesteer die heilige op ’n manier wat jy in jou waters kan voel as die ware Jakob.

Vir my was die natuur van kindsbeen al af die plek waar ek myself kon verstaan, die vreemde wêreld kon verwerk en verteer en waar die landskap gevoel het soos ’n lang, pragtige gedig. Hier het die woorde van groot digters gestalte gevind in ’n pragtige Karoobossie, die opera het weerklink in die kokkewiet se roep na sy maat en die vlakte het altyd ’n storie vertel wat my ure lank kon boei.

Toe ek die huis verlaat om in Stellenbosch te gaan drama studeer, het ek met hierdie kosbare kleinnood van die heiligheid van woorde in my knapsak, die wereld begin verken en op Tarot kaarte afgekom. Die skoonheid van die prente het my laat duisel van genot, partykeer het die woorde my geinspireer, maar dit het my gehinder dat die kaarte jou ’n indikasie kan gee van waar jy in jou lewe is en waarheen jy oppad is. Ek glo dat dit wat jy nodig het in jou lewe na jou toe sal kom as jy reg is om dit te assimileer en dit toe te pas in jou lewe en om daarna te soek voordat jy reg is om dit te verstaan, help nie veel nie, want jy verstaan dit in jou kop, maar voel dit nog nie in jou hart nie.

’n Herinnering uit my kinderdae wat diep in my geheue ingebrand is, is die een waar albei my ouers, in hulle eie tyd soggens stil geword het voor die Bybel en “Uit die Beek”, waar hulle dagstukkies bykomend tot ’n bybelvers gelees het, om vir hulle as versterking te dien deur die dag. Deur my hele lewe was daar ’n soektog na wat ek bykomend tot die Bybel kan lees, wat ook my dag kan rig.

En dit het ek uiteindelik gekry in Michael en Penny Misplon se Life Cards. Die oerwaarhede van die woorde op hierdie kaarte resoneer soos ’n basdrom in my binneste en ek kan dae lank herkou daaraan. Ek onthou veral een kaart wat my binneste lieflik tot bedaring gebring het toe ek sukkel om my te vereenselwig met iets wat my susterskind, nog ’n jongman in sy onbesonne jeug, gedoen het. My eerste reaksie was om vir hom te vertel hoe dom hy is en hoe hy sy weë sal moet verander. Op die dag wat ek hom wou bel en skel, toe haal ek die kaart uit die Life Cards pak uit wat se dat jy net ten volle jou eie pad kan loop as jy een ander kan toelaat om sy pad te loop en sy eie foute te maak. Net daar is ek stomgeslaan en nodeloos om te se, ek het toe nooit daardie oproep gemaak nie, want ek het besef dat ek vandag hier is gevolg van ”foute” wat ek gemaak het, wat my geleer het wat nie om te doen nie. By hierdie kaarte kon ek verstaan hoekom dit so belangrik is om iets klaar te maak waarmee jy begin het, omdat die klaarmaak van ’n taak, jou vrymaak om iets nuuts te begin. Onklaar siklusse het ’n ”dooie energie” en dit maak jou kop deurmekaar omdat dit ’n wanbalans in jou lewe veroorsaak. Ek het dit nou al vele kere beleef en as ek diep in die modder van onklaar dinge vassit, gaan lees ek weer die kaart wat se ”Completing cycles of action”. Dan gaan ek op my spoor terug, en maak klaar wat nie klaar is nie.

Michael en Penny doen al jare lank wonderlike dinge om mense te help om hulle skakel te vind waarmee alles op die aarde en die heelal aanmekaar verbind is en deur die jare het hierdie twee mense met ’n sin of twee, my doen en late gerig. As jy ’n behoefte het om daagliks om te gaan met woorde van waarheid, kan jy gerus jouself ’n guns doen en vir jou ’n pak Life Cards bestel. Die druk van die vinnige moderne lewe, wat, as ons eerlik is met mekaar, heeltemal bo die vuurmaakplek  van die deursnee mens is, waar ons honger geword het om met mekaar te praat, omdat meeste mense net elektronies ”kommunikeer”, vervul hierdie kaarte ’n belangrike rol om ’n ruimte te skep waar jy ’n stil plek kan vind om tot jou sinne te kom. Die plek waar jy kan onthou van die plek waar die waarheid in die eenvoud lê.

Bel vir Penny by 044 873 0251 om te bestel.