2024 Werkswinkels

Ek en oom Johannes het gesels om n vuurtjie en ons voel ons wil mense tegemoet kom met ons pryse vir werkswinkels,omdat almal finansieel en emosioneel swaar kry. Moeder Natuur is die grootste geneser en ons wil mense aanmoedig om Theefontein toe te kom om die wonder van die natuur te kom ondervind.

Stuur gerus n e-pos by infoSKaapSTERTkarookruie.co.za as jy wil bespreek.

In die 18 jaar dat ek oom Johannes se vakleerling is om te leer van die medisinale waarde van Karoo kruie en n magdom ander wonderlike dinge wat ek by oom Johannes leer, is die genesende waarde van Moeder Natuur eerste op die lys. Net om die son op jou rug te voel as jy in die veld stap, of die blou dak bokant jou bewonder of die voeltjies se sang te beluister, verander iets in jou binnelandskap en maak seerplekke in jou binneste gesond. Dit het my jare gevat om werklik die stilte hier in die Land van Ruimte te hoor en te voel watter goeie medisyne dit is om weg te sink in hierdie heilige Stilte.

Jy hoef niks te doen om hierdie genesing te bewerkstellig nie, jy hoef net die sagte arms van die groot bruin berge op Theefontein, die Manberg en die Vrouberg te gaan skuil, want hulle verstaan met n oer-verstaan. Dit is ook in Moeder Natuur waar jy die manifestasie van die Skepper van als sien, maak nie saak watter naam jy die Blou dak se Baas noem nie.

Na jare van hierdie wonderlike avontuur, het ons die behoefte begin voel om hierdie skat met ander te deel en dis hoe ons werkswinkels begin het.

Waar gaan die werkswinkel wees?

In 2024 gaan die werkswinkels en ander aktiwiteite hier op die Ouwerf op Theefontein gebeur en mense kan bly in die groot huis, wat tot 12 mense kan akkommodeer. Theefontein is die plaas van Jacques en Wilna Pienaar. Hier gaan jy saans by kerslig sit, jy gaan die donkie ( nie die lewendige donkie nie!) aansteek om saans warm water te geniet en jy kan luister na die wind wat deur die reuse bloekombome se blare fluister.

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

 

Hoe lyk so n werkswinkel?

Gaste arriveer vanaf 15h00 op Theefontein en ek en oom Johannes kom so 16h00 se kant na die groot huis toe, waar ons mekaar ontmoet en leer ken. Soos ons die geselssak losmaak, drink ons tee of enige ander vorm van nattigheid en sit onder die reuse bloekombome of op die lieflike lang stoep en luister na die stilte en kyk na die Manberg en die Vrouberg. Die eerste aand gee ons mense tyd om Theefontein te absorbeer en gaan na ons huisies op die bult so net na skemer en gaste kan saam eet of sommer net ontspan.

Die volgende oggend, gewoonlik so 8 uur of 9 uur (afhangende van die weer) vertrek ons saam veld toe, waar ons kruie uitwys, terwyl ons rustig deur die veld stap. Teen 11.00 gaan ons Katjie-3-Blaarbos toe, waar ons n vuurtjie sal maak, wors en braaibrood braai en hierdie ete word verskaf deur my en oom Johannes. Hier gesels ons verder oor die kruie wat ons gesien het en wys verder kruie uit in die Katjie-3-Blaar bos, waarna ons heerlik eet en ons verloor in die skoonheid van die natuur. Teen 13h00 \ 13h30 gaan ons huistoe, waarna mense kan rus tot 16h00, wanneer ek en oom Johannes weer groot huis toe kom om geleentheid te gee vir mense om neer te skryf en notas te maak oor al die kruie wat ons gesien het. n Kort inligting-sessie volg dan oor watter kruie saam met watter kruie gebruik word en vir watter siekte toestande dit gebruik kan word.

Daardie aand eet ons almal saam onder die sterre as die weer dit toelaat en gesels dan n hond uit n bos uit. Hier bring elkeen dit wat hy wil eet en ons ''gooi saam'' en kuier tot die eerste haan kraai.

Sondagoggend begin ons om 8.00, sodat ons teen 13h00 kan klaar wees om mense wat ver moet ry die kans te gee om by die huis te kom. Sondag kyk ons na medisinake tuinkruie en ons moedig mense aan om blikkies te bring sodat ons vir hulle van hierdie plantjies kan gee. Daar is ook op hierdie laaste dag n geleentheid vir elkeen om n konsultasie by my en oom Johannes te kry om oor individuele gesondheids-probleme te praat of verder vrae te vra oor kruie. Teen 12h00 eet ons saam en ons ''gooi weer saam'' en sluit dan teen 13h00/13h30 die werkswinkel af.

Datums 2024

  • 16 - 18 Februarie.

  • 1 - 3 Maart
  • 15 - 17 Maart
  • 28 Maart - 1 April

  • 12 - 14 April
  • 26 - 29 April

  • 3 - 5 Mei
  • 17 - 19 Mei
  • 31 Mei - 2 Junie

  • 7- 9 Mei
  • 14 - 17 Mei
  • 31 Mei - 2 Junie

  • 7 - 9 Junie
  • 14 - 17 Junie
  • 22 - 25 Junie.

  • 5 - 7 Julie
  • 19 - 21 Julie

  • 5 - 9 Augustus
  • 19 - 21 Augustus

  • 6 - 8 September
  • 20 - 24 September

  • 5 - 7 Oktober
  • 19 - 21 Oktober
  • 26 - 28 Oktober

  • 5 -7 November
  • 19 - 21 November
  • 26 - 28 November

Koste van werkswinkels

Die koste van n werkswinkel is R1300 per dag per persoon.
Verblyf R300 per nag per persoon.
Almal sorg vir hulle eie kos, behalwe waar anders aangedui.
Besprekings vir die werkswinkels kan per e-pos gemaak word,
Die adres is infoSKaapSTERTkarookruie.co.za
'n Deposito van 50% is betaalbaar binne 10 dae van die bevestiging van die bespreking en die balans 10 dae voor aankoms.

Wat jy kan saambring

Hier is nie selfoon ontvangs nie, maar ons het wi-fi by ons op die bult as mense oproepe wil maak. Ons het sonpanele wat krag verskaf vir mense wat hulle fone wil herlaai.

  • Dit help om n koplig of gewone flits te bring as jy snags wil \ moet opstaan.
  • Sonbrandmiddel.
  • Muskiet-afkeer middel.
  • Goeie skoene.
  • 'n Goeie hoed.
  • 'n Boek om aantekeninge te maak.
  • 'n Kamera of selfoon vir mooi fotos.
  • 'n Mus of ''beanie'' vir die nagte wat koel is.

As jy allergies vir bysteek, maak seker dat jy die regte medisyne by jou het om n krisis te voorkom (ons is ver uit die dorp uit).

''One-on-ones''

Deur die jare het ons agtergekom dat nie almal verkies om in n groep te kom om te leer van kruie nie, maar dat hulle verkies om vir n ''one-on-one'' te kom, waar ons maksimum 2 mense toelaat om by ons op die werf op die bult te kom bly. Die ''one-on-ones'' is nie beperk tot die leer van kruie nie, mense kan bloot net kom om stil te wees of te rus, met beperkte stap in die veld. Mense kontak ons om te kom skilder, kom skryf, kom sit of kom slaap hier in die rustigheid van Theefontein en hiervoor is die''one-on-ones'' perfek.

Hier op die bult is daar n klein huisie, waar jy water by die kraan op jou stoep gaan tap, waar jy kerse gaan gebruik en waar jy ''longdrop'' toe met gaan. Dis gelukkig n moderne Enviro-Loo longdrop en die vele bangmaakstories oor ''longdrops'' deur die jare, geld nie hier nie.

Ons het n yskas wat werk met sonkrag, so mense kan hulle kos koel hou vir die duur van hulle verblyf. Ons bied ook n opsie aan dat mense saam ons eet. Ons verskaf beddegoed en mense kan hulle eie handdoeke bring om hulle af te droog nadat hulle in hulle kommetjie gewas het. Ons moedig ook mense aan om hulle eie kussings te bring.

Die verloop van hierdie ''one-one-ones'' is dieselfde vir mense wat kom om oor kruie te leer, maar wanneer mense nie noodwendig wil kom om van kruie te leer nie, bespreek ek vooraf met gaste wat hulle behoeftes is en ons pas dan aan by wat so n mens nodig het.

Die ''one-on-ones'' is besonder geskik vir mense wat n stryd voer om hulle gesondheid en baie mense kom hier aan nadat die medici moed opgegee het. Oom Johannes ondersoek dan die pasient en ons berei kruie voor wat die persoon kan gebruik vir die duur van sy verblyf. Ons werkswinkels het vaste datums, maar by die ''one-on-ones'' kan mense hulle eie datums en behoeftes bepaal.

Mense kan n bespreking maak deur vir my n e-pos te stuur by infoSKaapSTERTkarookruie.co.za

Kostes van ''one-on-ones''

R1300 per persoon per dag. Baie mense wat behoefte het aan alleentyd verkies om langer as 2 dae te kom en maak gewoonlik besprekings vir 5 dae en langer.
Akkomodasie R300 per persoon per nag.
Etes R200 per dag vir 3 etes. Daar is ook opsies waar mense miskien net 1 ete by ons eet, maar ons kan daaroor praat as die bepreking gemaak word.
Die lys van dinge wat mens kan saambring is dieselfde as vir die werkswinkels.
Besprekings kan gemaak word deur n e-pos te stuur na infoSKaapSTERTkarookruie.co.za

Paradys vir stappers, voelkykers en sterrekykers

In 2019 het ons ons eerste stappers op Theefontein ontvang en hulle is ou stap-vriende wat hulleself ''Die Vinke'' noem. En watter belewenis was dit nie vir ons en vir hulle nie! Hulle het een dag saam met ons in die veld spandeer en die ander twee dae het hulle n 14km stap gaan doen, op n pragtige uitgelegde roete, al in die klowe af by Beyer sfontein.

Kostes vir stappers, sterrekykers en voelkykers

Die koste vir stappers is R250 per nag per per persoon vir verblyf in die groot huis.
R200 per dag vir die stap per persoon.
R500 vir n dag saam met my en oom Johannes, waar ons kruie uitwys en saam eet in die Katjie-3-Blaarbos.
Die bedrag van R500 is betaalbaar as die groep uit 10 mense bestaan en R750 per dag vir minder as 8 mense.
Ons eet daardie aand saam om te praat oor al die kruie wat ons gesien het en vrae wat mense het oor kruie of oor siekte toestande beantwoord.
Besprekings kan gemaak word deur n e-pos te stuur na infoSKaapSTERTkarookruie.co.za

Storiesirkel-naweke

In 2019 het ons die wonderlike voorreg gehad om ons eerste storiesirkel onder die groot boom op Theefontein te ervaar, onder leiding van Mari Borstlap. Tegnologie het gemaak dat ons al hoe minder met mekaar praat en die storiesirkel-naweek het my opnuut onder die indruk gebring van hoe nodig dit is vir ons om vir mekaar stories te vertel. Binne die veligheid van n storie, kan n mens jou wonde omskep in woorde en eindig by n punt waar jy kan lag of glimlag oor jou vreudge en jou verdriet.

Datums vir die storiesirkel-naweke

  • 20 - 22 Maart
  • 22 - 24 Mei
  • 19 - 21 Junie {Vadersdag storiesirkel}
  • 7 - 9 Augustus {Vroudag storiesirkel}
  • 25 - 27 September.


Koste van n storiesirkel-naweek

R250 per persoon per nag vir verblyf.
R500 per persoon per dag vir 10 mense.
R750 per persoon per dag vir 8 en minder mense.
Die naweek is selfsorg naweek, so ons ''gooi saam'' as dit by etes kom.

Die storiesirkel-naweek

Mense begin arriveer vanaf 3 uur die Vrydagmiddag en ek en oom Johannes kom groot huis toe vanaf 4 uur af. Ons ontmoet mekaar en leer mekaar ken en begin dan solank die storiesak losknoop vir die volgende oggend. Ons begin 9 uur Saterdag oggend onder die groot doringboom of die groot bloekomboom en ek en oom Johannes begin dan om n storie te vertel en soos die dag ontwikkel, deel meer en meer mense hulle stories. Ons geniet middagete saam, gaan rus dan n bietjie en kom weer 16h00 by mekaar om verder stories te vertel. Sondagoggend 9 uur ontmoet ons weer, na elkeen ontbyt geniet het en gesels dan terugskouend oor die stories wat ons Saterdag gedeel het. Mense kan n aantekeningboek saambring om notas te maak waar nodig.

Gaste vertrek die Sondag teen 13h00, nadat ons saam middagete geniet het.

Die lys van dinge wat mense kan saambring is dieselfde as vir werkswinkels.

Besprekings vir die storiesirkel-naweek kan gemaak word deur vir my n e-pos te stuur na infoSKaapSTERTkarookruie.co.za

The arrival was lovely: warm, welcoming and a lovely green oasis . . . My conversations with Antoinette gave me an immediate sense of her going straight for the essence – she spoke about herbs which open your gesintheid (your visionary ability) which spoke to me very deeply. I had an instant sense of a wealth and depth of wisdom which I needed to tap into . . . Delicious food, also for me as a vegetarian . . . Loved the quiet and the magnificent stars – would love to have slept outside under the stars.
Isabelle Webb, Cape Town, Mar 2013
Eerstens is die hoogte punt vir my dat ek op ‘n “road trippie” saam met my Ma ‘n slag iewers heen alleen was. Ek was al na baie workshops of retreats op my eie gegaan en gewens sy was daar. Maar die feit dat die een in die Karoo plaas gevind het en heel in Afrikaans was, was baie spesiaal vir my. . . . Die stilte, die kos en die natuur was fantasties. Ek voel regtig geseënd om elke mens die naweek te geontmoet het. Ek sal graag elke jaar terug kom, en my boompie Karoo water gee.
Louise, Paris en London, Maart 2013
OOM JOHANNES EN ANTOINETTE IS GOUD VAN DIE AARDE MENSE.
Helena, Maart 2013
Naweek was wonderlik. Ann en Charl het ook die hele pad gegaan om ons verblyf aangenaam te maak.
Jeff de Wet
Baie moeg xxx aangekom en nie geweet wat om te verwag nie. Ek moet se dat ek baie aangeneem en verras was. Die wonderlike sameseyn met elkeen. Die wonder wat ons in die naturur beleef.

Ons het baie tuisgevoel en dankbaar oor die moeite wat Ann en haar man gedoen het. Die verblyf was goed. Alles was mooi ingerug. Ek het baie veilig gevoel.

Wat my opgeval het is die manier hoe Oom Johannes and Antoinette mekaar respekteer en aanvul. Ek is baie dankbaar dat ek hierdie naweek kan meemaak.

Lorraine de Wet